Voorspoedige Nuwe Jaar 2026

By Laluchia Botha · Dec 31, 2025
Voorspoedige Nuwe Jaar 2026 picture

Wat ‘n grondpad jaar…… 2025 het ons teleurgestel en seer gemaak. Ons het baie mooi dinge en lelike dinge die jaar beleef en baie geleer. Ons het op baie dorings en klippe getrap en gevoel of ons net nie meer kon aanhou loop nie. Maar toe kom die mooiste blomme op ons pad. Ons het ook blomme oppad verloor maar dis deel van die reis. 
 

As ons terug kyk na hierdie jaar, besef ons hoeveel keer God ons gehelp het, deur soveel dinge wat ons self nie kon doen nie, sonder Hom sou ons dit nie tot hier gemaak het nie. Eendag sal alles sin maak hoekom jy deur alles moes gaan maar vir nou bly op jou kniee, vertrou op God en wees dankbaar. Daar was goed en sleg in 2025 maar ons sien uit na die nuwe pad wat voorlê.

Ons het geleer dat niemand kan die pad vir jou stap nie. Maar weet dat God altyd by jou is. Niemand kan jou gelukkig maak behalwe jouself nie. Jou geluk lê nie in iemand anders se hande nie. Niemand gaan jou probleme vir jou uitsorteer nie. Jy moet self daardeur werk. Daar is min mense wat jou gaan help maar weet net dat die Here vir jou engele stuur om jou reis bietjie meer draagsaam te maak. God se genade is baie groot. Beloftes is soms leë woorde. Opgee is nooit ‘n opsie nie. Dit is ok om vir ‘n ruk te lê maar jy moet self besluit om op te staan niemand gaan dit vir jou doen nie. Mens moet soms net sit en rustig word en dankie sê vir die Here. Daar sal altyd iemand wees wat in die middel van jou reis sal staan omdat hulle dit nie vir jou gun nie. Mens kan net die beste weergawe van jouself wees en moet nooit jou moed verloor in iets wat jy regtig wil bereik nie. Jy droom nie verniet nie. Dit is daar vir ‘n doel. Weet net geen mens kan ‘n deur toemaak wat God vir jou oopgemaak het nie.

Baie dankie vir jou wat ons by gestaan het. Wat ons aangemoedig het en moed in gepraat het. Baie dankie vir jou wat ons weer opgehelp het en ons gedra het. Baie dankie vir jou wat ons ondersteun het. Baie dankie vir jou wat net geluister het sonder oordeel. Baie dankie dat jy deel is van ons lewe. Dankie aan elkeen wat dit saam met ons enduit gemaak het, ons het by elkeen iets geleer. Ons kies om die lewe te deel met mense wat vir ons omgee en wat graag deel wil wees van ons lewe.

Onthou altyd elkeen is besig om ‘n stryd te baklei wat jy niks van weet nie so wees vriendelik. Dis ok om te vra vir hulp. Vra meer vrae as om aanames te maak. Wees ‘n seën, wees ‘n vriend en wees daar vir mekaar. Luister sonder om te oordeel. Wees die verskil wat jy in die wêreld wil sien. Jy is ‘n belangrike deel van God se plan.

My gebed vir jou is om te genees van die seer in jou verlede en dat God jou sal bevry van die bitter herinneringe. Mag jy genees van al die dinge wat nie uitgepraat word nie. Mag dit reën daar waar jy ploeg en elke seisoen meer hê as genoeg. Mag jy die vrugte van jou arbeid pluk. Mag jy die nuwe jaar gesond, geseënd en gespaard bly. Mag jy omring wees met God se liefde. Sy genade en vrede. Mag dit met jou goedgaan. Mag die Here jou ryklik seën, jou grondgebied vergroot en jou bewaar van onheil. Mag God se goedheid en guns jou altyd volg waarookal jy oppad is. Voorspoedige nuwe jaar.

Liefde

Thys & Lalu

Share on

Comments

No comments yet.
Click here to contact us on WhatsApp